Hoërskool Wolmaransstad Beheerliggaam
- By Mnr. P.E. Marx
- •
- 14 Feb, 2018
- •
Termynverslag 2015-2018
1. Inleiding
Dit was vir my persoonlik ‘n groot voorreg om Hoërskool Wolmaransstad te dien vir die afgelope 3 jaar. Om dit te kon doen saam met ‘n ongelooflike span, is iets besonders. Hiermee wil ek dan ook dankie sê aan elke BL-lid en ons gades wat saamgetrek het aan hierdie Wollies-wa. Veral ook baie dankie aan Me. Wassermann en haar bestuurspan vir die goeie gesindheid waarmee ons kon saamwerk in belang van ons skool.
In die afgelope drie jaar het ons verskeie projekte aangepak, sommiges is afgehandel en ander het ver gevorder. Dankie aan elke ouer, lid van die gemeenskap en besigheid vir jul ondersteuning. Sonder julle hulp sou ons niks kon uitrig nie. Dit is dan vir ons as BL ‘n voorreg om verslag te kan doen oor ons werksaamhede die afgelope drie jaar:
2. Personeelvoorsiening - BL
Ons is van die staanspoor af gekonfronteer met groot uitdagings. Sonder ‘n hoof en met ons adjunkhoof-pos wat oortollig verklaar is a.g.v dalende getalle, was daar baie uitdagings in 2015.
Ons leerlingtal het gegroei van 385 in 2015 tot 500 in 2018. Dit het tot gevolg gehad dat ons weer ons adjunkhoof-pos, sowel as ‘n aantal posvlak 1 poste, bygekry het. Dit alles het die druk op BL-poste verlig en ons is dankbaar dat ons nou ons BL-poste baie meer kompeterende salarisse kan aanbied en sodoende ons top onderwysers kan behou.
Die volgende Bestuursaanstellings is in hierdie termyn gemaak :
Hoof: Me. Wassermann
Adjunkhoof : Mnr Muller
Departementshoofde : Mnr. Treurnicht, Me. Pienaar en Mnr. Whitehorn
Ons vertrou dat elkeen van hierdie personeel nog diep spore in Hoërskool Wolmaransstad gaan trap.
3. Beeld van die skool – BL en Gades
Groot werk is gedoen in die uitbou van die beeld van die skool, waaronder die verandering van ons dogters se skooldrag en die instel van eenvormigheid in kleredrag. Die dames het ook groot werk gedoen met die verfraaiing van die ingangsportaal, die hoofde se kantore en die vervanging van die gordyne in die skoolsaal.
4. Finansies- Mnr. Jonker
Baie goeie finansiële dissipline word gehandhaaf. Verskeie projekte is geloods waarvan die bedryf van die snoepie, die mielie- en die speenkalfprojekte die belangrikste is. Sonder goeie finansiële bestuur sou dit onmoontlik wees om ander projekte aan te pak, of om onderwysers se salarisse te kan aanpas.
5. Sport – Mnr Van Wyk
Die mees opsigtelike projek was die verf van die pawiljoene by die A-veld, die herstel van die atletiekbaan en die inrig van die skietlokaal. ‘n Ten volle toegeruste gimnasium is tans in wording en die leerders behoort teen die einde Februarie daar te kan oefen saam met hul afrigters. Daar is egter ook baie agter die skerms gewerk met die saamstel van sportbeleide en die skep van ‘n milieu vir groter ouerbetrokkenheid.
6. Bemarking en Kommunikasie - Mnr. Marx
Wollies word baie goed bemark in al die omliggende dorpe en laerskole. Die gevolg daarvan kan gesien word in die groei in leerlingtal. In die termyn is ons Facebook-profiel ook omskep in ‘n Facebook-blad. Die verandering het ‘n baie meer interaktiewe blad tot gevolg gehad. ‘n Nuwe webblad vir die skool is ook in die lewe geroep.
7. Ondersteunersklub - Mnr Labushagne
Die ondersteunersklub het ten doel om ‘n tuiste vir al ons ondersteuners te wees, hetsy ‘n ouer of ‘n lid van die gemeenskap. Almal met ‘n Wollies-hart is welkom. In die termyn is die lapa se dak weer herstel en is daar gemaklike banke aangekoop, waar almal lekker kan saam kuier en ontspan.
8. Geboue en terrein – Mnr Richter
Ons terrein beslaan ongeveer 13 hektaar en groot werk is in die drie jaar aan die terrein en geboue gedoen. Die verf van klaskamers gaan nog deurlopend voort en die oordoen van die badkamers in die voorportaal van die saal en by die pawiljoene was nog ‘n groot projek wat afgehandel is. Die verf van die skoolsaal en die aanbring van pallisades by die A-veld parkering, die herstel van die gate in die teerpad, die afsaag van bome en instandhouding van die tuine is maar net nog ‘n paar om te noem. Dit kan saamgelees word met alle geboue- en terreinverbeterings by die sportvelde en koshuise.
9. Koshuis – Mnr Rheeder ( Ondervoorsitter)
Die koshuisbegroting word fyn bestuur, ook met die uitwerk van spyskaarte en aankope om die somme te laat klop. In die termyn is badkamers in die seuns- en dogterskoshuise geteël. Koshuise word ook buite en binne geverf. Die projek is nog nie afgehandel nie. Die getalle van die koshuisleerders het ook baie toegeneem, met 2018 se inname op 63 dogters en 56 seuns.
10. Nuwe lede
Die volgende lede is gekoöpteer om te help om die wiele glad te laat rol . Ons sê baie dankie vir julle insette die afgelope paar maande:
Mnr. Stavros Stavrou: Verversings en verkope
Mnr Nico Rossouw : Verteenwoordig leerlinge van buite dorpe
11. Bedankings
Ons wil ook van die geleentheid gebruik maak om aan elke onderwyser en personeellid baie dankie te sê vir julle moeite in belang van die skool. ‘n BL kan die raamwerk saamstel vir ‘n skool om te presteer, maar sonder ‘n goeie hoof en bevoegde personeellede en ‘n gemeenskap wat omgee, is ons hande afgekap. Dit was ‘n voorreg om saam met elkeen van julle te werk. Dankie ook aan ons Hemelse Vader vir Sy Hand van beskerming en seëning oor ons skool die afgelope 3 jaar.
12 BL-Verkiesing: 8 Maart 2018
Die verkiesing van Beheerliggaamslede vind plaas op 8 Maart 2018. Ons vra dat elke ouer vir wie hierdie skool belangrik is, asb julle kruisie sal kom trek. Dit is in belang van die voortbestaan van ons skool.
Wollies-groete
Mnr. P.E. Marx
Voorsitter BL