Hoërskool Wolmaransstad Omsendbrief001
- By Hoërskool Wolmaransstad
- •
- 25 Jan, 2018
- •
Beste ouers
Hoërskool Wolmaransstad groet u met sy 500 leerders en 26 onderwysers. Ons is opgewonde oor ‘n nuwe jaar met nuwe geleenthede.
Belangrike datums
Aangeheg aan hierdie brief vind u die kwartaalprogram vir die eerste kwartaal. Daar sal geen formele assesseringsweek wees hierdie kwartaal nie. Assesserings word deurlopend gedoen. Maak dus seker dat u kind gereeld by die skool is sodat hy/sy nie assesserings misloop nie. Indien leerders ‘n assessering misloop, moet ‘n mediese sertifikaat ingehandig word, anders sal die leerder ‘n 0 kry vir die assessering. Sien ook toe dat u kind gereeld huiswerk doen en leer vir die assesserings. U sal binnekort die kwartaallikse assesseringsprogram ontvang.
Daar word hierdie kwartaal nuwe ouerlede vir die Beheerliggaam verkies. Die datum vir die verkiesing is 8 Maart. Verdere inligting sal aan u deurgegee word.
Oueraande
Graad 12-oueraand het plaasgevind op 22 Januarie en die 8-oueraand vind plaas op 25 Januarie om 18:30 in die skoolsaal. Geen formele oueraand sal in die ander grade gehou word nie. U is egter baie welkom om probleme met enige vakonderwyser te bespreek per afspraak. Kontak me Bonthuys by die skool om vir u ‘n afspraak te reël.
Baie welkom
Dis vir ons ‘n groot voorreg om die volgende personeel by Hoërskool Wolmaransstad te verwelkom. Mnr Hennie Muller is aangestel as adjunkhoof en hy sluit by ons aan vanaf Hoërskool Bothaville. Hy is ‘n baie ervare Wiskunde en Fisiese Wetenskap onderwyser. Ons sê ook baie geluk aan me Ansuné Pienaar met haar aanstelling as departementshoof by Wollies. Me Eurika le Roux is oorgeplaas vanaf Hoërskool Douglas. Sy is ‘n baie ervare Rekeningkunde en Rekenaarstoepassingstegnologie onderwyseres en was reeds departementshoof by haar vorige skool. Mnr Hanré Whitehorn begin sy onderwysloopbaan by ons nadat hy afgestudeer het aan NWU. Hy sal Sosiale Wetenskap en Tegnologie onderrig. Baie welkom aan hierdie onderwysers.
Kommunikasie
Ons wil alle nuwe ouers versoek om die D6-kommunikeerder af te laai by http://www.school-communicator.com/downloads/school. Tik die naam van die skool in en laai dit op u rekenaar of selfoon af. Dis die maklikste en goedkoopste manier om met ouers te kommunikeer. Hou ook ons Facebook-blad dop by https://www.facebook.com/Hoërskool-Wolmaransstad-793848637365304/?ref=bookmarks. Daar word gereeld foto’s van die skoolgeleenthede geplaas. Meer formele inligting is beskikbaar op ons webblad by https://www.hswollies.co.za/.
Waardeweek
Ons waardeweek vind plaas van 26 Februarie tot 1 Maart. Vanjaar is die fokus op die vestig van goeie gewoontes. Ons het reeds drie sprekers, nl ds. Daniël de Kock, Corneels Schabort en Jannie de Beer, vasgemaak vir die week. Ouers en leerders word aangemoedig om deel te wees van die waardeweek. Daar sal ‘n ma-en-dogter en pa-en-seun geleentheid wees tydens die waardeweek. Indien u betrokke kan wees as gasheer/gasvrou vir die geleentheid, kontak me Ansuné Pienaar. Daar is groot finansiële uitgawes met die kry van die sprekers. Indien enige ouer voel dat u graag ‘n bydrae wil maak spesifiek vir hierdie geleentheid, kontak me Ansuné Pienaar of Jorina Viviers.
Betrokkenheid
Aan die begin van die jaar doen ek ‘n beroep op elke leerder en ouer om betrokke te wees by die skool se aktiwiteite. Slegs deur betrokke te wees, kan leerders werklik holisties ontwikkel.
Revue
Wollies gaan vanjaar vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n revue aanbied. Leerders moet oudisies bywoon en oefeninge sal na skool en in die aande plaasvind. Daar sal ook oefenkampe wees wat die leerders moet bywoon. Slegs leerders wat met toewyding gaan oefen, hoef die oudisies by te woon.
Matriekuitslae
Die matriekklas van 2017 het die skool baie trots gemaak. Nie alleen behaal hulle ‘n 100% slaagsyfer nie, maar ook 62.67% leerders slaag met universiteitsvrystelling. Leerders wat kwalifiseer vir diploma en Baccalaureus, is 98.67%. Dis baie belangrik dat ons nie net sal streef na 100% slaag nie, maar ook kyk na die kwaliteit van die kwalifikasie wat ons leerders behaal. Die groep van 75 leerders behaal 86 vakonderskeidings.
Ons toppresteerders was Nameer Kahn, 7 vakonderskeidings en 30e in Noordwes, Milandi Snyman, 7 vakonderskeidings en 50e in Noordwes, Michelle Winter, 6 vakonderskeidings en 52e in Noordwes. Johan Rheeder en Neels van Wyk behaal elk 5 onderskeidings en Muller Vermaak en Lara Jordaan 4 onderskeidings. Dan behaal Heinrich Engelbrecht, Janika Labuschagne en Arno Gouws elk 3 onderskeidings. Veels geluk!
Ek deel graag van die vakprestasies met u:
Vak |
Gemiddeld |
Onderskeidings |
Afrikaans |
60% |
5 |
Engels |
70% |
13 |
Wiskunde |
62% |
5 |
Wiskundige Geletterdheid |
59% |
3 |
Fisiese Wetenskap |
48% |
4 |
Lewenswetenskap |
58% |
4 |
Geografie |
55% |
2 |
Ekonomie |
55% |
1 |
Rekeningkunde |
66% |
2 |
Besigheidstudie |
54% |
|
Verbruikerstudie |
64% |
1 |
Rekenaartoepassingstegnologie |
50% |
|
Ingenieursgrafika en ontwerp |
55% |
3 |
Meganiese tegnologie |
55% |
|
Siviele tegnologie |
65% |
2 |
Lewensoriëntering |
75% |
41 |
Dankie aan elke onderwyser wat van graad 8 hard gewerk het om die leerders te onderrig. Ek kan met groot vertroue sê u kinders is in goeie hande. Ons kyk in dankbaarheid terug op ‘n geseënde jaar en plaas ons vertroue vir 2018 in die Hand van ons Hemelse Vader!
Wollie-groete
C. Wassermann